ROSEKORBERart

Visuele Kuns: Ruan Hoffmann by Liza Grobler, US-galery, Stellenbosch (Die Burger, 11 November 2008)

Ruan Hoffmann se aweregse kleiwerke vul die galery. Dié kunstenaar, wat aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het, beklemtoon hy span klei in as medium, as skilderdoek; en is nie 'n pottebakker nie. Hy het onlangs onder meer 'n reeks litografieë by die Frans Masereelsentrum in België geskep.
'n Hondertal helder geglasuurde borde nooi die kyker om aan te sit vir 'n visuele feesmaal, want hierdie "borde" dis allerhande interessante insigte op. Dit gaan dan hier eerstens om die kwaliteite van "bordheid" te rek en omvorm, om die konvensies van wat 'n bord ís en mág wees uitmekaar te torring.
Die werke is vertrekke vol gedagtes en beskik oor die emotiewe kwaliteit van dagboekinskrywings. Dit gee speels persoonlike ervarings weer en is energieke samevattings van fragmente uit die lewe van Hoffmann, uit iedereen se lewe. Kleurryke sketse: van blomme, die dood, 'n oor, 'n rivier, word afgewissel met teksfragmente. Die sinsnedes is pittig: "I think it's better for you perhaps to cling to your art, rather than to me", "I won't listen" en "Help Mommy!" Enkele werke is opgedra aan ander Suid-Afrikaanse kunstenaars. Daar is ook sommiges wat meer spesifiek vir die kunstenaar is, soos die skertsende "Veels Geluk Ruan Hoffmann" en die ewe raak "Facebook Friends".
Ruan Hoffmann se gedagtes in klei trek skewebek vir konvensies. Miskien is die stellings wat gemaak word nie allesomvattende waarhede of nuwe insigte nie, maar dit is juis die bekendheid van die verwysings wat daaraan 'n nimlikheid verleen.

2010 All rights reserved. Origination by Di Conradie.